Die onderhoud en rehabilitasie van boorgate NET soos enige ander stuk toerusting wat daagliks gebruik word, moet ’n boorgat ook gereeld onderhou word om seker te maak dat dit in dieselfde, of ten minste in ’n bruikbare toestand, bly. Wanneer nodig, kan en moet dit “gediens” word om weer ‘n beter lewering of kwaliteit te gee. Hierdie “diens” word gedoen in die vorm van meganiese en/of chemiese boorgat-rehabilitasie. Die drie hooffaktore wat bepaal hoe lank ’n boorgat in ’n goeie toestand bly, is die aanvanklike boorgatontwerp en –konstruksie, die waterkwaliteit (beide chemies en mikrobiologies) en die strategie waarvolgens die boorgat bedryf word. Verswakkende boorgat- effektiwiteit is die maatstaf wat gebruik word om te bepaal of ’n boorgat gerehabiliteer moet word, en in meeste gevalle werk die drie faktore saam om die doeltreffendheid te beïnvloed, maar dit is die bedryfstrategie wat dikwels as sneller dien om die agteruitgang van die boorgateffektiwiteit in werking te stel. Baie kortliks en oorsigtelik kan ons die drie hooffaktore en van die rehabilitasiemetodes wat gebruik word om die skade te beperk of om te keer, soos volg opsom: Aanvanklike boorgatontwerp en –konstruksie: Indien perforasies op verkeerde dieptes voorkom, is daar toerusting beskikbaar om die voering addisioneel te perforeer nadat dit geïnstalleer is. Die korrekte plasing van voering kan slegs geëvalueer word indien akkurate rekords bestaan van die boorgatontwerp, en die werklike dieptes van perforasies byvoorbeeld deur ’n kamera-inspeksie verkry word. Waterkwaliteit: Toename in nitrate is gewoonlik die gevolg van besoedeling vanuit veekrale of rioolstelsels. Deur hierdie stelsels te verskuif of af te seël, sal die chemiese kwaliteit mettertyd weer verbeter. Net so kan die toediening van bemestingstowwe in akkerbou bydra om die waterkwaliteit te verswak. Deur die bemesting aan te pas en beter te bestuur, sal die kwaliteit weer met tyd verbeter. Dikwels is die verswakking in kwaliteit ook seisoenaal van aard, en moet die bron eenvoudig nie gebruik word ten tye van die voorkoms van swakker kwaliteit water nie. Dit is belangrik om te besef dat daar geen vinnige oplossing is om die kwaliteit te herstel nie, en hier geld die gesegde dat voorkoming beter is as genesing beslis. Indien die chemiese “bestanddele” van die water van so ’n aard is dat dit neerslagvormend is en die fisiese toestande is gunstig, kan die porieë in die formasie rondom die boorgat en die perforasies in die voering maklik en vinnig verstop. Die presipitate wat vir die verstopping verantwoordelik is kan, indien dit vroeg genoeg waargeneem word, deur chemiese behandeling met soutsuur verwyder word. Die suur word in die boorgat gegooi en deur van ’n suier gebruik te maak, word die suur in die formasie inforseer. Die suur los die presipitaat op en verwyder dus die bron van die verstopping, wat weer die vloei van grondwater deur die formasie en die perforasies vergemaklik. Die oortollige suur word eenvoudig uitgepomp. Indien die waterkwaliteit mikro- biologies verswak deur besoedeling uit rioolstelsels (dit word gewoonlik bevestig deur die teenwoordigheid van E. Colibakterieë) kan skokbehandeling met chloor die gewenste uitwerking hê. Dit bly egter ’n vereiste dat die bron van die besoedeling geïdentifiseer en verwyder moet word, anders gaan die besoedeling weer voorkom. Dit is baie belangrik om te onthou dat dit gevaarlik is om met suur en chloor te werk, en dat dit ’n veiligheidsrisiko inhou. Kry daarom liewers ’n kenner om die werk te doen. Bedryfstrategie: Oordrewe aftrek van die watertafel deur óf te hoë onttrekkingstempo’s óf te lang pomp-ure dra by tot die presipitasie van chemiese stowwe, wat weer die porieë verstop en ’n afname in boorgat-effektiwiteit tot gevolg het. Suurbehandeling en die skoonmaak van die boorgat deur ’n stamperboor te gebruik lewer baie goeie resultate – dié metode het homself deur en deur bewys. Pomptoetse op die boorgat en bepaling van die korrekte onttrekkingstempo’s en pomp-ure word ook aanbeveel. Om te weet wanneer om wat te doen in terme van boorgatrehabilitasie, is dit noodsaaklik dat die boorgateienaar oor genoegsame data beskik om die verskeie faktore te evalueer, en dan op die beste rehabilitasie-opsie te besluit. Die belangrikste bly dus behoorlike bestuur van die grondwaterbron en die boorgat.
Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water Resources Management aan kliënte die volgende dienste: Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te bring en bied aan alle kliënte ’n eerlike diens, waar die belang van grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om oor Sy skepping te heers. |
||
