Wiggelary vs wetenskap in die aanwys van water

Om mee te begin moet ons eers identifiseer op watter maniere word "water
gewys". Ek sit die begrip tussen aanhalingstekens, omdat daar, wat my
betref, nie iets is soos waterwys nie. Meeste mense het al op die een of
ander manier te doen gehad met tradisionele waterwysmetodes, of ken iemand
wat water wys. My ondervinding is dat daar amper ewe veel metodes is as wat
daar mense is wat water wys.

Die bekendstes is sekerlik die gebruik van mikstokke en drade, maar die
gebruik van waterbottels (op die handpalm of op die kop gedra), gewere,
allerhande tipes kabels en tot selfone is nie ongewoon nie. 'n Baie groot
persentasie van die boorgate wat in Namibië geboor is, is met een van
hierdie vele metodes aangewys en daar is dikwels 'n "legende" op hierdie
gebied in feitlik elke streek.

Dikwels kry ons ook dat boormanne self aanwysings doen. Sommige
"waterwysers" roem daarop dat hulle die diepte waarop water gekry sal word
voortydig kan aandui, asook hoe sterk so 'n water sal wees en hoeveel
"kruis-are" daar is. Baie dikwels gaan sulke "waterwysery" gepaard met wat
ek sommer reguit bygelowe noem, goed soos dat die persoon nie gesteur mag
word terwyl hy water soek nie, of dat hy nie kan werk as hy "normaal" is
nie, maar eers "opgewek moet word tot 'n meer sensitiewe staat".

Maar werk dit regtig? As ons kyk na die hoeveelheid boorgate wat al
suksesvol geboor is, moet daar seker iets in steek. Aan die ander kant, as
ons kyk hoeveel onsuksesvolle gate op hierdie manier aangewys is, is ek glad
nie oortuig dat dit regtig werk nie.

Ek is oortuig dat enige persoon wat met oop oë deur die lewe gaan en
raaksien hoe die natuur reageer, kennis het van verskillende tipes gesteente
en so 'n bietjie analities dink, die vermoë het om boorgate aan te wys. Per
slot van sake, enige persoon het 'n 50% kans om 'n suksesvolle boorgat aan
te wys, of dan om "suksesvol water te wys".

Daar is, sover my kennis strek, nog geen wetenskaplike verklaring waarom
sekere mense hierdie vermoë het om "water te wys" en ander nie. Ook nie
waarop die metode wat gebruik word reageer nie. Vir die kritikus van hierdie
tradisionele metodes is een van die argumente daarteen waarom 'n mikstok, 'n
bottel water, 'n draad (party glo net aan koperdraad, terwyl ander net aan
staaldraad glo) of 'n geweer - alles items wat niks in gemeen het nie - juis
op water reageer.

Van die Engelse terme wat gebruik word om hierdie aktiwiteit te beskryf is
onder andere "water dowsing" (water wiggelary) en "water witching" (water
toordery). Daar bestaan ellelange lyste van literatuurverwysings na
eksperimente en toetse (onder gekontroleerde toestande) wat gedoen is om te
bepaal of "waterwysers" werklik "abnormale magte" het en of hulle maar net
op geluk werk.

Meeste daarvan dui maar op geluk. Ek het egter ook op "verklarings" afgekom
van ene Hans-Dieter Betz, 'n fisikus aan die Universiteit van München, wat
ek nogal amusant gevind het, veral omdat die "uiters suksesvolle waterwyser"
wat hy meestal gebruik om die metode te verdedig, aan my bekend is. Hy maak
spesifieke vermelding van 'n boorgat in Namibië wat 100 m diep is wat ene
Schröter suksesvol aangewys het slegs 2 m weg van die aanvanklike droë
boorgat.

Ek was in die bevoorregte posisie om mnr. Schröter in 1992 te ontmoet toe hy
in Namibië aangekom het en hom na die noorde te vat waar ons besig was met
'n boorprojek. Ons eerste stop was Namutoni, waar Schröter sy drade
uitgehaal het en nadat ek 'n boorstelling deur middel van geofisiese werk
aangewys het, my verseker het ek is "van die aar af" en dat die boorgat
droog sal wees tensy ek die boorstelling 'n paar meter skuif.

Ek moet bieg dat ek heelwat meer kennis van die gebied gehad het en uit
bestaande inligting geweet het dat grondwater daar voorkom onder artesiese
toestande! Nodeloos om te sê, die "droë" boorgat het water gehad. Ons tweede
stop was noord van Oshivelo waar die grondwater diep, maar redelik
wydverspreid in die Kalaharisedimente voorkom.

Weer eens het ek die onregverdige voordeel gehad om te weet die water kom
wydverspreid in die sedimente voor en nie in sekondêre fraktuur akwifere
nie. Schröter was weer verkeerd in sy waarneming. Hy het terloops ook baie
van die geohidroloë wat by Waterwese gewerk het "getoets" vir hul vermoë om
"dowsing" te doen, maar die oordeel oor meeste (ek inkluis) was dat ons, in
sy woorde, 'n "mental resistance" gehad het.

Ek het daarna nie weer saam met Schröter gewerk nie, maar ek weet dat hy
heelwat boorgate veral in die suide afgesteek het, met niks meer sukses as
die wetenskaplikes en ook dat hy baie graag gesê het 'n boorgat is skeef
geboor as dit droog was! Teenoor "water toordery" staan die ander manier om
grondwater voorkomste te identifiseer, naamlik deur middel van wetenskaplike
tegnieke.

Die feit dat dit wetenskaplik gedoen word, is egter geen waarborg op sukses
nie en ongelukkig het meeste mense 'n onrealistiese hoë verwagting daarvan.
Alle wetenskaplike tegnieke is gebaseer op die waarneming en meet van een of
meer fisiese eienskappe van die geologiese omgewing.

Die mees algemene eienskappe wat gemeet word is geleiding, weerstand en
magnetisme. In terme van grondwater voorkomste sal waterdraende gesteentes
oor die algemeen byvoorbeeld hoër geleiding en laer weerstand hê as
dieselfde gesteente tipe wat nie-waterdraend is. Ongelukkig kan dieselfde
fisiese reaksie ook waargeneem word as gevolg van verskeie ander faktore.

So kan 'n droë breuk wat gemineraliseer is deur byvoorbeeld ysteroksiede,
feitlik dieselfde geofisiese "handtekening" as 'n waterdraende breuk gee ten
opsigte van geleiding of weerstand. Omdat meeste van die tegnieke berus op
die aanwending van eksterne faktore soos elektriese stroom, kan menslike
foute maklik insluip in die proses.

Wanneer byvoorbeeld in gebiede met hoë kontakweerstande elektriese
weerstandswerk gedoen word, moet die stroomsterkte wat deur die grond
gestuur word hoog genoeg wees om die weerstand te oorkom, anders gaan die
geofisiese werk betekenisloos wees. Net so sal geleidingstegnieke nutteloos
wees waar byvoorbeeld dik kleilae of soutwater is, omdat die elektriese
stroomwaarvan die geleiding gemeet word eenvoudig deur sulke lae gelei sal
word en dus beperk word tot daardie lae.

Daar is 'n tegniek ontwikkel, die sogenaamde "nuclear magnetic resonance
(NMR) soundings", wat in leketaal op die waterstof atoom reageer en skynbaar
baie akkuraat is in die identifisering van grondwatervoorkomste as dit onder
die regte toestande gebruik word.

Die wetenskaplike metode wat gebruik word is slegs een van die
gereedskapstukke in die geohidroloog se arsenaal. As dit in isolasie gebruik
word, met ander woorde, dit is die enigste inligting wat gebruik word, is
dit wat my betref niks beter as "water toordery" nie.

Die inligting wat deur middel van die geofisiese opname versamel word, moet
in konteks met die geologiese omgewing, die geomorfologie, die plantegroei
en verskeie ander faktore gesien word.

Wanneer dit gedoen word, verhoog dit doodeenvoudig die kans op sukses en
word die 50% kans wat enige persoon het om 'n suksesvolle boorgat aan te
wys, 'n 75% of 80% en hoër kans op sukses, maar dit bly steeds nie
onfeilbaar nie.





Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante
dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar
ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water
Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
* Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
* Ontsluiting van grondwater bronne.
* Kwantifisering van grondwater reserwes.
* Boorgat rehabilitasie.
* Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
* Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
* Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
* Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
* Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van
sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
* Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met
betrekking tot Omgewings Impak Studies.
* Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te
bring en bied aan alle kliënte 'n eerlike diens, waar die belang van
grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om
oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

Só soek jy water

SOOS almal teen hierdie tyd weet, is grondwater daardie onsigbare komponent
van die hidrologiese siklus wat in die versadigde sone onder die
grondoppervlak voorkom. Om hierdie bron op te spoor en toegang daartoe te
verkry, is een of ander vorm van eksplorasie nodig, maar ek wil dit reg van
die begin af onomwonde stel dat daar geen onfeilbare metode is wat "water
wys" nie.

Sukses hang eerder af van die deeglikheid en eerlikheid waarmee alle
beskikbare inligting geëvalueer word. Om verskeie redes, waaronder
lojaliteit teenoor vriende of kennisse, onkunde en wantroue in die wetenskap
as gevolg van enkele slegte ervarings van wetenskaplike tegnieke, verkies
die oorgrote meerderheid van grondwaterverbruikers steeds om eksplorasie, of
dalk eerder die aanwys van boorgate, deur onprofessionele "waterwysers", of
stokkieswysers soos in die spreektaal genoem, te laat doen.

Ek gaan nie die meriete hiervan bespreek nie, maar eerder wys op die waarde
wat 'n professionele geohidroloog kan toevoeg tot die ontsluiting en bestuur
van grondwaterbronne deur 'n behoorlike tafelstudie en eksplorasieprogram.

'n Professionele geohidroloog is 'n persoon wat opleiding ontvang het op
verskeie vakgebiede, soos onder meer geologie, hidrologie, wiskunde, fisika
en chemie, en dan veral in terme van die verwantskap van hierdie vakgebiede
met grondwater, d.w.s. geohidrologie, geofisika en geochemie, met die
wiskundige aspekte veral ten opsigte van grondwater se vloeidinamika.

Die geohidroloog moet 'n professionele integriteit handhaaf, met etiese
verantwoordelikhede ten opsigte van eerlikheid in die evaluering van
grondwater ondersoeke en verwante probleme. Alle eksplorasieprogramme het
die primêre doel om boorgatstellings aan te wys, boorgate te sink en
daardeur die grondwaterbron toeganklik te maak en te ontwikkel tot
ekonomiese voordeel van die verbruiker.

Wie ook al die boorstellings aanwys en die bron gaan ontwikkel, moet die
volgende bepaal:

* Die potensiële grondwater beskikbaarheid en -kwaliteit, d.w.s. of daar
genoeg grondwater van voldoende kwaliteit gaan wees om in die behoefte te
voorsien, en die koste van ontwikkeling.

* Die hoeveelheid boorgate wat benodig gaan word om die grondwaterbron
optimaal te benut.

* Die plasing van die boorgate binne die akwifeer en in verhouding tot
mekaar.

* Die volume grondwater wat volhoubaar onttrek kan word.

* Die potensiële impak van die grondwater-onttrekking op die
grondwater-omgewing. Wanneer hierdie aspekte gedefinieer en gedoen is, moet
aanbevelings gedoen word rakende beskerming van die grondwaterbron. Dit mag
insluit om aktiwiteite te identifiseer wat 'n bedreiging vir die grondwater
is (bv. die plasing van krale of rioolstelsels) en ooronttrekking.

Die goue reël is dat dit makliker is om probleme wat die akwifeer sal
verswak te voorkom as om later die gevolge daarvan reg te stel. Vir die
meeste mense begin en eindig die hele eksplorasieproses ongelukkig by die
plasing van boorgate, en daar is weinig belangstelling om die ander aspekte
te definieer en antwoorde te kry.

Die geohidroloog is die persoon wat die kennis het om al hierdie los drade
bymekaar te bring en saam te vat om dit vir die verbruiker moontlik te maak
om die grondwaterbron optimaal te benut en reg te bestuur. In die verlede
het die geohidroloog potensiële ondersoekgebiede vanaf lugfoto's,
topografiese kaarte en satellietfoto's geïdentifiseer, en dan baie dae in
die veld deurgebring om die gebiede te kry, al die inligting te versamel, op
die grond te evalueer en dit dan met geologiese kennis en geofisiese
tegnieke te bevestig.

Baie tyd is dus spandeer om al die legstukke inmekaar te pas om die groter
prentjie te kan sien. Al hierdie aspekte van eksplorasie is vandag nog ewe
geldig en belangrik, maar met die tegnologiese ontwikkeling is dit net
soveel makliker en baie tyd word bespaar.

Dit is ongelukkig so dat van die geohidroloë in hierdie "tegnologiese
revolusie" die belangrikheid van deeglike veldevaluasie misken, en glo dat
hulle nie meer nodig het om behoorlike veldwerk te doen nie omdat baie van
die werk in die gerief van 'n lugverkoelde kantoor op die rekenaar gedoen
kan word.

Persoonlik het ek 'n hekel daaraan en diesulkes dra na my mening daartoe by
om wantroue in die aardwetenskap by die publiek te kweek. Met 'n deeglike
tafelstudie, waar al die beskikbare inligting geëvalueer word, tesame met
afstandswaarneming en die hulp van databasisse en rekenaars, kan die
geohidroloog wel vandag in die kantoor sit en teikengebiede baie akkuraat
identifiseer.

Hierdie inligting moet egter steeds op die grond bevestig en geëvalueer
word. Waarnemings van die natuurlike omgewing soos boomlyne, verandering in
plantegroei en topografie, asook dieregedrag, dra saam met geologiese en
geofisiese werk by om die geheel te verstaan. As hierdie inligting saam
gebruik word, verhoog dit die kanse op suksesvolle boorgate net soveel meer.

Die omgewing sal in 'n groot mate bepaal watter geofisiese tegnieke en
metodes suksesvol gebruik kan word om vir grondwater te eksploreer. Die mees
algemene metodes sluit in elektriese weerstand, elektromagneties en
magneties. Daar is geweldig baie faktore wat enige geofisiese opname kan
beïnvloed, soos die teenwoordigheid van hoëspanning kragdrade, heinings en
elektriese motors en dit kan veroorsaak dat die resultate nie die werklike
geologiese gedrag verteenwoordig nie.

Die oordeel van die geohidroloog is dus uiters belangrik om "feite van
fiksie te onderskei". Kom ons kyk kortliks na die basiese beginsels van
hierdie drie geofisiese eksplorasiemetodes. Met die elektriese
weerstandsmetode word elektriese stroom fisies in die grond gestuur, die
potensiaalverskil word gemeet en die weerstand van die geologiese omgewing
word bepaal.

Daar is twee tegnieke wat gebruik word, naamlik vertikale sonderings en
horisontale profiele. Sonderings word gebruik waar gesteentes horisontaal
gelaagd voorkom, en die diepte van lae met verskillende weerstande kan
bepaal word.

Met profiele word die gesteentes se weerstand horisontaal op dieselfde
diepte gemeet, en die tegniek is goed om vertikale of subvertikale kontakte
tussen verskillende gesteente tipes, asook verskuiwings en frakture op te
spoor. Hierdie metode is baie tydrowend, maar is seker die algemeenste in
grondwater-eksplorasie.

Die elektromagnetiese metode is 'n relatief vinnige metode om toe te pas, en
is gebaseer op die verhouding in die verval van primêre en sekondêre
magneetvelde, wat opgewek word deur elektriese stroom tussen ontvanger- en
sender spoele te stuur. In effek word die geleiding van die elektriese
stroom deur die gesteentes gemeet, en die metode is dus baie toepaslik om
verskuiwings en frakture op te spoor.

Dit word dikwels gebruik as "verkenningsmetode" wat die elektriese
weerstandsmetode voorafgaan. Met die magnetiese metode word die sterkte van
die magneetveld binne gesteentes gemeet. Die metode is ook relatief vinnig
om te doen en baie toepaslik om kontakte tussen (magnetiese) gesteentes op
te spoor, maar is ook goed om verskuiwings en frakture op te spoor waarbinne
bv. yster neergeslaan het.

In gesteentes wat makliker die vloei van grondwater deurlaat, is
yster-oksidasie baie algemeen, en maak dit dus die magnetiese metode baie
toepaslik in grondwater-eksplorasie. Evaluering van die geofisiese data,
saam met al die ander inligting, sal vir die geohidroloog 'n goeie idee gee
van die potensiaal om 'n suksesvolle boorgat te sink wat in die
waterbehoefte van die verbruiker sal kan voorsien.

Boonop sal hierdie geïntegreerde evaluering van al die beskikbare inligting
dit moontlik maak om potensiële gevare en probleme te identifiseer,
vroegtydig riglyne te gee hoe om dit te voorkom en sal dit dus die
verbruiker in staat stel om ingeligte besluite te neem ten opsigte van die
bestuur van die grondwater-bron.

Om dus net iemand te kry wat 'n "boorgat kan afsteek" is nie in die beste
belang van grondwater nie. Weliswaar is dit 'n groter finansiële uitgawe om
'n professionele persoon te kry wat insette kan lewer in al die aspekte van
die ontwikkeling van 'n grondwater-bron, maar die waarde wat daardeur
toegevoeg word, sal veel groter wees as die dollar-waarde wat gespaar word
deur van 'n nie-professionele persoon gebruik te maak.


Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante
dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar
ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water
Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
* Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
* Ontsluiting van grondwater bronne.
* Kwantifisering van grondwater reserwes.
* Boorgat rehabilitasie.
* Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
* Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
* Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
* Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
* Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van
sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
* Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met
betrekking tot Omgewings Impak Studies.
* Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te
bring en bied aan alle kliënte 'n eerlike diens, waar die belang van
grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om
oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

Só besluit geohidroloog waar om boorgat te sink

ONS het in die vorige artikel gekyk na wie grondwater-eksplorasie doen en
wat die waarde kan wees wat toegevoeg word indien 'n professionele persoon
die eksplorasie doen. Nou gaan ons bietjie verder en kyk na wat so 'n
eksplorasieprogram in breë trekke behels.

Alhoewel die doel van die grondwater-ontwikkeling wat beplan word, hetsy 'n
enkele boorgat vir veesuiping, of 'n hele klomp boorgate vir grootmaat
watervoorsiening, in 'n groot mate gaan bepaal: hoe soek 'n mens vir water?

Eerstehandse inligting oor die presiese doel van die ontwikkeling, die
hoeveelheid water wat benodig word en waar dit benodig word, asook die
terreinuitleg is belangrik vir die geohidroloog om sy eksplorasieprogram te
beplan.

Wanneer hierdie inligting beskikbaar is, gaan die professionele geohidroloog
soveel moontlik inligting rakende die geologie en geohidrologie van die
algemene omgewing insamel en evalueer. Hierdie inligting word verkry vanaf
databasisse (heelwat boorgat- asook geologiese inligting is so beskikbaar),
kaarte en verslae van vorige ondersoeke - beide geologies en geohidrologies.

Van die insiggewende en baie bruikbare inligting van bestaande boorgate is
onder meer die diepte waarop water gevind is, die boorgatlewering en
ruswatervlak asook die geologiese profiel van 'n boorgat, terwyl daar baie
maal ook waterkwaliteit inligting beskikbaar is.

Tot op hierdie punt is meeste van die inligting wat versamel word verwant
aan individuele aspekte van die eksplorasieprogram, met ander woorde dit
vertel vir die geohidroloog iets van byvoorbeeld die waterkwaliteit, óf die
omgewing se watervlak, óf die dominate geologie. Die volgende stap is
gewoonlik afstandswaarneming (remote sensing).

In hierdie fase word geologiese en geohidrologiee kaarte, lugfoto's en
satellietfoto's bestudeer om die bes moontlike teikengebiede in terme van
geohidrologie en geologie (soos kontakte tussen verskillende gesteente tipes
asook geologiese strukture soos verskuiwings) te identifiseer.

Die verhouding/verwantskap tussen bestaande boorgate en hierdie
teikengebiede word vasgestel en sodoende kan dele binne die teikengebiede
wat beter potensiaal vir grondwater ontwikkeling het, meer akkuraat bepaal
en weerspieël word.

Die geohidroloog gebruik nou al hierdie inligting om 'n konseptuele model te
vorm wat vir hom 'n geheelprentjie van die ondersoekgebied skets, asook wat
die moontlike struikelblokke kan wees en na watter faktore daar spesifiek
opgelet moet word.

Hierdie konseptuele model gee 'n eerste aanduiding van wat om op die grond
te verwag, en soos meer inligting beskikbaar raak, word hierdie model
aangepas om dit meer akkuraat te maak.

Wanneer die konseptuele model gevorm is, besluit die geohidroloog watter
ondersoekmetode die geskikste sal wees en die beste resultate sal lewer.
Indien die mees geskikte geofisiese toerusting nie beskikbaar is nie, moet
die geohidroloog op die mees toepaslike en beskikbare plaasvervanger
besluit.

Die volgende fase in die eksplorasieprogram is om die inligting wat versamel
is, asook die konseptuele model, in die veld en op die grond te gaan
evalueer, bevestig en aanpas indien nodig.

Deur van óf 'n geofisiese metode, óf 'n kombinasie van verskeie geofisiese
metodes, óf van suiwer geologiese waarneming gebruik te maak, bepaal die
geohidroloog dan die punte op die grond waar hy van mening is boorgate
gesink kan word wat die beste potensiaal sal hê om in die behoeftes van die
gevraagde grondwaterontwikkeling te voorsien.

Hiermee saam sal die geohidroloog 'n aanduiding kan gee van die verwagte
diepte waarop water gevind kan word, asook wat sy oordeel is ten opsigte van
die grondwaterpotensiaal. Vir die meeste boorgateienaars en
grondwaterverbruikers eindig hul "ver- houding" met die geohidroloog
ongelukkig hier.

Die volgende stappe moet wees om behoorlike toesig te hou oor die boorwerk
en die gepaardgaande inligting wat versamel moet word, om 'n behoorlike
boorgatontwerp en -konstruksie te doen, om die boorgat reg te toets om
sodoende 'n aanduiding te kry van die volhoubare onttrekkingstempo's en dan
'n gepaste bedryfstrategie aan te beveel, en ook om watermonsters te neem en
te laat ontleed vir chemiese en/ of biologiese waterkwaliteitsanalise.

Wanneer al hierdie aspekte van geohidrologiese eksplorasie afgehandel is,
kan die geohidroloog 'n weldeurdagte bestuursplan vir die verbruiker op die
tafel sit. Dit is dus duidelik dat in meeste gevalle waar wel van 'n
geohidroloog se dienste gebruik gemaak word, dit slegs in die heel eerste
fase van grondwater ontwikkeling geskied.

In aansluiting by die vorige artikel, vertrou ek dat elkeen wat 'n
grondwaterbron wil ontwikkel, vir watter doel ook al, sal besef dat daar
baie meer in en aan die ontwikkeling van so 'n bron is as doodeenvoudig die
"afsteek van 'n boorgat". Die waarde van 'n deeglike studie, goed beplande
eksplorasie en kennis wat die geohidroloog kan toevoeg, mag nie gering
geskat word nie.

Te dikwels het ek al gehoor dat baie boorgate geboor en baie geld spandeer
is voordat die hulp en kennis van 'n geohidroloog ingeroep word. Hiermee wil
ek vir geen oomblik sê dat die dienste van die geohidroloog onfeilbare
resultate gaan lewer nie, maar wel dat die potensiaal om 'n grondwaterbron
suksesvol te ontwikkel net soveel groter is.







Otto van Vuuren lewer geïntegreerde geohidrologiese en ander water-verwante
dienste onder die naam Dynamic Water Resources Management. Met 20 jaar
ondervinding in die grondwater sektor in Namibië, bied Dynamic Water
Resources Management aan kliënte die volgende dienste:

Grondwater ondersoeke en eksplorasie
* Identifisering van potensiële grondwater bronne vir ontwikkeling.
* Ontsluiting van grondwater bronne.
* Kwantifisering van grondwater reserwes.
* Boorgat rehabilitasie.
* Aanbevelings in terme van volhoubare grondwater ontwikkeling.

Grondwater besoedeling studies
* Identifisering van potensiële besoedelings bronne.
* Aanbevelings in terme van remediërende stappe.

Water bronne bestuur
* Evaluering van bestaande water bronne bestuurs praktyke.
* Aanbevelings vir geïntegreerde bestuurs praktyke, insluitend die rol van
sanitasie, in terme van volhoubare gebruik van water bronne.
* Evaluering van die rol van grondwater in die omgewing, spesifiek met
betrekking tot Omgewings Impak Studies.
* Ontwikkeling en saamstelling van water bronne bestuurstplanne.

Dynamic Water Resources Management strewe in alles om aan God die eer te
bring en bied aan alle kliënte 'n eerlike diens, waar die belang van
grondwater eerste gestel word in ooreenstemming met ons God-gegewe opdrag om
oor Sy skepping te heers.

Vir verdere inligting kontak Otto van Vuuren by grondwater@ gmail.com

Enige vrae?

Hier is antwoorde op veelgestelde vrae

VRAE

Ons boor so diep as wat die kliënt ons toelaat om te boor. Die diepste gat wat ons geboor het was 426 meter. Die diepte van die gat kan ook beperk word
agv te veel water.

Ons wys nie self water aan nie. Dit is raadsaam om reeds die plek waar die gat geboor moet word te bepaal voordat u die boorman skakel. Die kliënt is verantwoordelik om die plek waar aangewys is toeganklik te maak vir die boor en die kompressor.

Ja. Alle formasies se prys is dieselfde bv rooigraniet, sandsteen, feltsiet, diabaas ens. Slytende kwartsiet en modder word egter teen 'n hoër tarief geboor.

Die standaard grootte van 'n boorgat wissel tussen 160 mm tot 170 mm (indien 'n boorgat diep in die rotsformasie inkalwe, kan kleiner voering nog geïnstalleer word). Ons boor ook gate van 216 mm en installeer voering van 172 mm.

Fred Labuschagne van Tempa Pompe toets ons boorgate.

Een tot twee dae afhangende van die diepte wat geboor word en die tipe formasie.

Ja. Fred Labuschagne (sien elders op hierdie webwerf) sal vir u ook die korrekte spesifikasies vir u pomp aandui.

Kontak ons gerus!